1. Ondersteun ‘n ma gedurende die ‘Eerste 1 000 Dae’ van haar kind se ontwikkeling
Die “Eerste 1 000 Dae” verwys na die tydperk vanaf die begin van ‘n swangerskap (bevrugting) tot en met ‘n kind se tweede verjaarsdag. Hierdie tydperk is die belangrikste periode in ‘n kind se breinontwikkeling. Dit is alom bekend dat wat gedurende hierdie tydperk plaasvind, ‘n kardinale rol speel in die wyse waarop kinders groei en ontwikkel in gelukkige, gesonde en goed aangepaste wesens.
‘n Groot gedeelte van ‘n kind se vroeë potensiaal is direk van sy ma afhanklik – haar welstand en dade speel ‘n kardinale rol in sy potensiaal. In Suid-Afrika is swangerskap en babas grootmaak vir baie vrouens ‘n groot uitdaging. Hulle het nie altyd toegang tot inligting en hulpbronne nie en van die ma’s is soms baie jonk en sielkundig nie heeltemal gereed vir hierdie groot verantwoordelikheid nie. Deur ondersteuning aan hierdie vrouens te verleen kan daar ‘n groot verskil in die welstand en lewenspotensiaal van hul baba gemaak word, sowel as in hulle eie lewens. Cape Town Embrace verskaf programriglyne, idees vir aktiwiteite, ondersteuning en netwerke om ma’s van verskillende sosio-ekonomiese agtergronde toe te laat om ondersteunende verhoudings rondom die welstand en ontwikkeling van ‘n nuwe ma se baba op te bou. Kliek hier vir projek-idees en maniere waarop gemeentelede kan bydra en betrokke raak.
2. Help kinders om lief te wees vir lees
Studies het ‘n sterk positiewe korrelasie gevind tussen die taalvermoë wat kinders in hul voorskoolse jare het en hulle vermoë om te leer wanneer hulle later skool toe gaan. Omdat lees leervermoë so sterk beïnvloed is dit dus ‘n kragtige instrument om armoede en ongelykheid te bekamp. Lees en begrip bevorder ook sosiale samehorigheid en innovasie omdat dit empatie, kritiese denke en verbeelding ontwikkel in mense. In Suid-Afrika lees egter net 5% van ouers vir hulle kinders en meer as die helfte van Suid-Afrikaanse huishoudings het geen storieboeke in hulle huise nie.
Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ‘n nasionale lees-vir-genot veldtog wat deur die Universiteit van Kaapstad ontwikkel is om kinders se ontwikkeling te ondersteun deur te lees en stories te vertel. Nal’ibali verskaf riglyne, verskeie hulpbronne en selfs opleiding vir mense en organisasies wat ‘n liefde vir lees probeer kweek onder kinders.
Kliek hier vir projek-idees en maniere waarop gemeentelede kan bydra en betrokke raak.
3. Ondersteun of skep geleenthede vir gestruktureerde vroeë kind stimulasie
Baie gemeentes ondersteun reeds vroeë kindontwikkeling (VKO) inisiatiewe soos informele speelgroepies of kleuterskole. Hierdie ondersteuning is fantasties en maak ‘n groot verskil. Dit is opsigself ‘n wonderlike projek. Kerke wat dit reeds doen vind egter dat die standaarde in terme van stimulasie wat aangebied word, baie varieer.
Smartstart verskaf ‘n eenvoudige, gestruktureerde kurrikulum en aktiwiteite wat in ‘n speelgroepie formaat aangebied kan word. Dit is ontwerp om suksesvol gefasiliteer te word deur ‘n VKO fasiliteerder wat nie formele opleiding het nie. Smartstart verskaf opleiding aan die fasiliteerder en ondersteun ‘n proses waardeur sy gesertifiseer word om SmartStart speelgroepies te fasiliteer. As sy hierdie punt bereik beteken dit dat haar groepie in ‘n opbouende, veilige omgewing plaasvind, dat die regte toerusting gebruik word en dat sy die voorgestelde program goed volg en op hoë kwaliteit implementeer. Ideaal sal die VKO fasiliteerder(s) ‘n toelae deur die regering se Gemeenskap Werk Program verdien.
SmartStart verskaf die langdurige ondersteuning en koördinering wat benodig word deur saam met ‘n plaaslike nie-regerings organisasie (wat spesialiseer in VKO) te werk wat verantwoordelikheid aanvaar vir die mentorskap en plaaslike bestuur van SmartStart speelgroepies in ‘n sekere area. Op die oomblik is ‘n nie-regerings organisasie wat deur Diaconia gestig is in die proses om deur SmartStart goedgekeur en voorberei te word om hierdie distrik se koördineringsrol te vervul vir VKO inisiatiewe wat deur NG kerke ondersteun word (waar die nodigheid van SmartStart duidelik is). Splinternuwe inisiatiewe kan op hierdie wyse op die been gebring word. SmartStart is ontwerp vir dagmoeders en massa-implimentasie en is dus nie duur of moeilik om van die been te bring nie. Alternatiewelik kan ‘n plaaslike VKO nie-regerings organisasie in die netwerk ingesluit word om hierdie rol te vervul en die kerk kan ondersteuning bied soos benodig.
Kyk na hierdie video vir meer inligting oor SmartStart en om dit in aksie te sien:
Skryf gerus aan [email protected] as u graag wil betrokke raak by SmartStart.
Om nog meer te lees oor SmartStart kliek hier.