Smartstart Wil Suid Afrika Verander!

Smartstart wil Suid Afrika help verander, ongelykheid verminder en armoede bestry deur optimale breinontwikkeling van jong kinders te bevorder, hulle intellektuele potensiaal te bevorder en die transformasie potensiaal van vroue in arm gemeenskappe ontsluit. (Sien navorsing: Getting Reading Right, Binding Constraints in Education en Opsomming van navorsingsresultate oor onderwys)

Die VISIE van Smartstart

Om teen 2025 een miljoen 3-4 jariges in bekostigbare speelgroepe in gemeenskappe te organiseer. Daarvoor moet meer as 50 000 vroue in die volgende 10 jaar opgelei word om met 3-4 jariges te werk. Dit is verbeeldingryk en die Smartstart projek word in vennootskap en samewerking met alle sektore in die Suid Afrikaanse samelewing aangepak, naamlik die regering, besigheid, kerke.

Hoe werk Smartstart?

Smartstart werk op die beginsels van ‘n sosiale franchise. Dit bied toegang tot kwaliteit, bekostigbare leergeleenthede vir die armste 40% van 3-4 jarige kinders in Suid-Afrika. Smartstart lei vroue op om MIKRO-ONDERNEMINGS te begin deur die aanbied van intellektuele stimulasie in speelprogramme vir kinders. Die vroue moet weekliks twee Smartstart speelgroepe aanbied (‘n speelgroep het tussen 6 en 12 kinders) van drie ure elk. Navorsing het getoon dat intellektuele stimulasie van drie ure per week in die ouderdomsgroep ‘n voordelige en standhoudende effek het op die intellektuele ontwikkeling en skoolgereedheid van 3-4 jariges.

Smartstart

Smartstarters

Die vroue (ook FRANCHISEES of “SMARTSTARTERS” genoem) word deur Smartstart geleer om self die kinders te werf in hul gemeenskap, hoe om ’n bydrae van ouers te vra vir hul dienste en om hul eie, veilige en goed ingerigte “Smartspace” te ontwikkel waar die Smartstart speelgroep gehou kan word. Smartstart bied GRATIS OPLEIDING, ‘n GRATIS SPEELGOEDPAKKET en voortgaande ONDERSTEUNING EN ONTWIKKELING aan hierdie Smartstarters deur Franchisors soos Diaconia. Gemeentes vorm ‘n ondersteuningsnetwerk om hierdie Smartstarters te ondersteun.

Die Smartstarters ontvang NIE ‘N SALARIS nie, maar daar word onderhandel met munisipaliteite en die Departement Sosiale Ontwikkeling om ‘n stipend (SUBSIDIE) van R700 per maand aan hierdie vroue te betaal en hulle deel te maak van die regering se EPWP program.

Die Smartstarters word georganiseer in Smartstart klubs om mekaar te ondersteun en hulle word ook opgelei om een maal per maand ‘n OUERLEIDING PROGRAM aan te bied vir die ouers van die kinders in hul Smartstart speelgroepe.

Wat kan gemeentes in vennootskap met Diaconia doen?

  • Gemeentes sluit ‘n vennootskap met Diaconia as Franchisor van Smartstart.
  • Gemeentes werf potensiële Smartstarters in die gemeenskap.
  • Diaconia organiseer die finale keuring van Smartstarters.
  • Diaconia gee ‘n kurrikulum en program vir die Smartstart speelgroep.
  • Diaconia gee 5 dag GRATIS opleiding aan Smartstarters.
  • Diaconia gee aan elke Smartstarter ‘n GRATIS Smartstart Speelgoed kit.
  • Diaconia stel ‘n “Club Coach” aan om die Smartstarters te ondersteun en voortgaande opleiding te gee om standaarde te verseker. Hulle sal die Smartstarter gereeld besoek.
  • Gemeentes help Smartstarters om hul SmartSpace speelplekke in te rig om te voldoen aan die minimum vereistes van die plaaslike regering en Smartstart.
  • Gemeentes ondersteun Smartstarters in hul plaaslike omgewing na goeddunke en vermoë.
  • Gemeentes onderhandel met die plaaslik munisipaliteit om ‘n stipend/subsidie aan die vroue te betaal en deel te maak van die plaaslike EPWP program.
Besoek Smartstart

Smartstart Struktuur

Smartstart Struktuur
NGK kan kinders ‘SmartStart’
deur Conette Le Roux, Die Kerkbode

“Die NG Kerk in die Wes-Kaap is aangewys as ‘n vennoot van SmartStart – ‘n nie-regeringsorganisasie met ‘n groot droom om ‘n verskil in Suid-Afrika te maak deur vroeë kinderontwikkeling. Volgens ds Leon Venter, predikant van die diensgroep Diaconia in Wes-Kaapland, is SmartStart gerig op kinders wie se ouers nie kan bekostig om hulle na ‘n kleuterskool te stuur…”

Lees verder