GALASIËRS 6:2
Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.
Om mekaar in moeilike tye te ondersteun, is ten diepste ‘n uitdrukking van ons liefde vir God. Hierdie dra van mekaar se laste, is soms in die vorm van ‘n besoek aan ‘n sieke in die hospitaal, soms net ‘n nie-veroordelende gesindheid, of ‘n gasvrye tuiste.
Hospivision help veral plattelandse gemeentes wat ver van die stad af is met pastorale besoeke in die volgende staatshospitale: Tygerberg Hospitaal, Rooikruis Hospitaal en Karl Bremer Hospitaal. Leraars of familielede kontak Hospivision en gee besonderhede van die pasiënt deur en besoeke word gereël. Hospivision bied ook ‘n verskeidenheid van kursusse aan wat lidmate toerus in pastorale sorg.
“Ons leef in ontwrigtende, selfs traumatiese tye. Ons lewensritme is versteur. Ons sien dit in die toename van simptome van geestesongesteldheid by soveel mense. Angstigheid, depressie, woede, lae selfbeeldprobleme, vereensaming, ens. Hoe oriënteer ons onsself weer na ‘n tyd van disoriëntasie? Hoe kan ons weer veerkragtig terugbons na terugslae? Hoe kan ons weer ons normale lewensritme terugvind? Die leerinhoude kan met vrug deur individue gelees word, maar dien ook as stimulerende gespreksdokumente vir groepe.” Besoek CLF se webblad vir gratis toegang tot inligtingstukke. Deel asb hierdie inligting in gemeentes. Daar is lidmate wat honger is hiervoor.
‘n Databasis bekend as MyHulp kan jou help om met pastorale terapeute in jou omgewing kontak te maak.
Het jy vrae of uitdagings rondom MIV/Vigs? Weet dat jy by CABSA nie alleen kundige leiding nie, maar ook deernisvolle ondersteuning sal vind.