Die volgende is belangrike ontwikkelingsbeginsels vir die ondersteuning en ontwikkeling van Vroeë Kindontwikkelingsprogramme:

i. Volhoubaarheid

Alle Vroeë Kindontwikkelingsprogramme moet aan die beginsels van volhoubaarheid voldoen.

ii. Gemeenskapsbetrokkenheid

Vroeë Kindontwikkelingsprogramme moet gekenmerk word deur die ontwikkeling van die gemeenskap se betrokkenheid by die program, sowel as eienaarskap van die program. Hoewel die vennootskap op die behoeftes van kinders in die armste gemeenskappe gerig is, is die vennootskap nie op ‘n benadering van “uitdeel” gerig nie. Vroeë Kindontwikkelingsprogramme moet dus nie paternalisties na begunstige gemeenskappe gebring word nie, maar moet in samewerking met en op bemagtigende wyse saam met die plaaslike gemeenskap ontwikkel word.

iii. Holistiese benadering

In alle Vroeë Kindontwikkelingsprogramme word ’n holistiese benadering nagestreef wat ten doel het om aan sekere behoeftes van kinders te voldoen. Dit sluit die volgende in:

  • Gesondheid
  • Gebalanseerde voeding
  • Emosionele sekuriteit
  • Intellektuele en fisieke stimulering

iv. Vennootskapbenadering

Gemeentes word aangemoedig om plaaslike netwerke en vennootskappe te vorm in die ontwikkeling van Vroeë Kindontwikkelingsprogramme.

v. Wetlike vereistes en registrasie

Gemeentes word aangemoedig om Vroeë Kindontwikkelings-programme so te steun dat dit sal voldoen aan die wetlike vereistes soos gestel deur die nasionale en provinsiale regerings. In die geval van ongeregistreerde VKO programme moet die eerste hoofdoel die registrasie van die program wees.

vi. Ontwikkelingsoriëntasie

Gemeentes word aangemoedig om Vroeë Kindontwikkelingsprogramme te steun met die opleiding en ontwikkeling van personeel, bestuursisteme en stelsels, vennootskappe en implementering tot voordeel van die kinders.

vii. Deelnemende oriëntasie

Die partye bevestig dat ‘n deelnemende oriëntasie gevolg word. Dit beteken die gemeente fasiliteer prosesse in plaaslike gemeenskappe sodat die plaaslike mense self betrokke raak en verantwoordelikheid vir die beplanning en implementering van enige VKO projekte aanvaar. Hulle moet self ook bydra om in die mees basiese behoeftes wat nodig is vir die implementering en volhoubaarheid van die Vroeë Kindontwikkelings-program, te voorsien.

viii. Bemagtiging

Gemeentes word aangemoedig om ‘n bemagtigingsoriëntasie te volg. Dit beteken vrouens en ander rolspelers binne die gemeenskap word ondersteun en aangemoedig om self ‘n verskil te maak in die versorging en ontwikkeling van die armste kinders in die hul gemeenskappe.