Begin ‘n ma-tot-ma ondersteuningsgroep
Ma’s en oumas in die gemeente en die groter gemeenskap kan ‘n ondersteuningsgroepie vir jong, hoë-risiko, swanger en nuwe mammas begin. Die groepie kan met plaaslike klinieke saamwerk om swanger en nuwe ma’s te nader en te vra of hulle belangstel om te konnekteer met ander ma’s in die gemeenskap om ondersteunende verhoudings te vorm (met die hulp van die Gemeenskaps Gesondheids Werkers). Groepies is gewoonlik nie gekwalifiseerd om met gevalle van ekstreme verslawing en dwelmmisbruik te werk nie, maar die idee is om swanger of nuwe ma’s wat min ondersteuning, hulpbronne en ervaring tot hul beskikking het, te ondersteun soos sy haar nuwe rol as ma aanpak. Die hoop is om haar te leer ken en iemand te wees met wie sy kan gesels, haar gevoelens en bekommernisse oor die swangerskap/baba se ontwikkeling kan deel, en miskien raad en inligting te kan gee as sy daarvoor vra.
Daar is verskillende maniere waarop so ‘n groep kan werk, maar die ideaal is dat daar mooi verhoudings tussen die ma’s sal ontwikkel. Verhoudings wat nie op liefdadigheid en meerderwaardigheid gebaseer is nie, maar wese-tot-wese verhoudings wat met verloop van tyd in ‘n langdurige vriendskap kan ontwikkel. Hopenlik sal hierdie verhouding vir albei partye betekenisvol wees. Hier is ‘n video wat so ‘n verhouding illustreer.
Die doel van die groep is dus om geleenthede te skep vir verhoudings om te ontwikkel en om in die proses positief by te dra tot die welstand van ma en kind, byvoorbeeld deur een maal per maand ‘n mamma-ondersteuningsgeleentheid aan te bied. Ouer en nuwe ma’s kan ook een-een met mekaar verbind word en dan kan hulle deur maandelikse individuele ontmoetings ‘n verhouding oor ‘n tydperk van vier maande ontwikkel (sien DG Murray Create Change proses).
Hoe kan ander gemeentelede die werk van hierdie groepie ondersteun?
- Die ma’s se interaksie met ander ma’s sal dit duidelik maak watter spesifieke behoeftes daar is. Hierdie behoeftes kan per persoon benader word soos wat die ondersteunende ma/groepie dit goed dink. Dit sal egter baie beteken vir die groep ondersteunende ma’s om te weet dat hulle weer op die ondersteuning van die groter gemeenskap en die kerk kan reken.
- Wanneer daar spesiale ma-tot-ma geleenthede plaasvind mag daar dalk hulp benodig word met die koördinering en voorbereiding.
Moontlike aktiwiteite vir ma-tot-ma groepsgeleenthede:
- Geestelike boodskap
- Leer mekaar ken oor ‘n koppie tee en iets lekkers te ete: Deel van jouself en jou storie, jou bekommernisse en vreugdes – gesels sessies tussen pare ma’s gebaseer op biografiese vrae wat elkeen beantwoord
- Fokus op swangerskap/baba ontwikkeling: Kies ‘n tema om oor inligting te deel en te gesels (met tyd kan die nuwe ma’s gevra word waaroor hulle graag sal wil gesels). Kyk byvoorbeeld na Cape Town Embrace se ontwikkelende baba hulpbron vir idees (of enige van die ander hulpbronne op ons hulpbronne bladsy, of ons ‘Eerste 1 000 Dae Pinterest-bladsy)
- Wees kreatief/leer iets. Maak baba-benodigdhede of iets kleins vir die baba, of leer om iets soos ‘n baba-massering te doen. Kyk na ons ‘Eerste 1 000 Dae’ Pinterest-bladsy vir oulike, lae-koste idees!
Sien ‘n voorbeeld van ‘n ‘Eerste 1 000 Dae’ ondersteuningsgroepie en tipiese aktiwiteite hier.
Kontak vir Sonja Basson by [email protected] as u ondersteuning nodig het om ‘n ‘Eerste 1 000 Dae’ ma-tot-ma ondersteuningsgroepie op die been te bring.
Riglyne en ondersteuning is beskikbaar via die DG Murray Trust, Vredelust Embrace en Cape Town Embrace.
Nota: Al DGMT en Vredelust Embrace se hulpbronne vir die ondersteuning van ma’s is in Afrikaans beskikbaar.