Middelafhanklikheid

Die CAD Wes- en Suid-Kaap is ‘n dinamiese organisasie wat vanuit Christelike oortuiging ‘n vertroulike en vriendskapsgedrewe ondersteunings- en motiveringsdiens lewer. Ons visie is om vanuit persoonlike ervaring van middelafhanklikheid opregte belangstelling en begrip vir die problematiek van die afhanklike en die gesin te toon. Deur middel van ywerige selfhelpgroepe word daar deur middel van kreatiewe aktiwiteite hierdie besondere diens aangebied aan die wat entoesiastiese deelname, selfverwesenliking van die individu, ‘n gesonde gesinslewe en ‘n sober gemeenskapslewe ten doel het.

CAD lewer ‘n nasorg- en ondersteuningsdiens, asook voorkomings- en motiveringswerk. Hierdie dienste word gelewer aan die rehabiliterende afhanklike en die gesin, die persoon wat steeds met afhanklikheid worstel en die oningeligte publiek. Dit word gedoen deur die vorming van selfhelp-ondersteuningsgroepe, voorkomingsprojekte en individuele uitreiking.

Die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) se selfhelp nasorg-groepe vergader weekliks in dorpe en woonbuurtes. Die leiers is almal gerehabiliteerde middelafhanklikes (alkohol, dwelms, medikasie) en hul gesinslede. Hulle werk as vrywillige beraders om ander te help wat sukkel om die middels te oorwin. Hulle help ook gesinslede om ‘n afhanklike te motiveer tot soberheid. Baie gesinslede is uitgesluit van die behandelingsproses en het ook hulp nodig. Die diens is gratis.

Enige belangstellende kan `n CAD-groep begin. In die Wes- en Suid-Kaap is daar `n voltydse Organiseerder om groepe te help stig en op te lei. Enige persoon kan dus gratis betrokke raak by die rehabilitasie van middelafhanklikes. Daar is ook maatskaplike werkers en ‘n maatskaplike hulpwerker wat kan help met nasorg en terugval voorkoming.