Kom ons gemeente begin ‘n projek! U het die ondersteuning van Diaconia, die NG Kerk en VG Kerk se gesamentlike Diensgroep wat gemeentes aanmoedig om meer sistemies betrokke te wees by die uitwissing van armoede in hul gemeenskappe.
Stap 1: Maak kontak
By Diaconia glo ons baie sterk daarin om in vennootskappe saam te werk. Ons wil u gemeente dus uitnooi om ons te nader om ‘n formele vennootskap te sluit sodat ons saam kan werk om by Vroeë Kindontwikkeling betrokke te wees. Ons kan u gemeente help met inligting oor potensiële vennote en hoe om die voordele van vennootskappe te benut. Ons kan u van die beste praktyke en nuttige inligting voorsien sodat u dit nie self hoef te gaan soek nie. Ons hoop ook om in die toekoms meer gemeentes finansieël by te staan in die werk wat hulle rondom Vroeë Kindontwikkeling in hul gemeenskappe doen.
U kan ons hier kontak. Indien u nie die leraar by u gemeente is nie, gaan gesels met hom/haar om te hoor of hy/sy sou belangstel om met ons hulp meer te wete te kom oor die ondersteuning van Vroeë Kindontwikkeling.
Stap 2: Kry nog mense aanboord
Soos met enige sosiale saak is bewusmaking nodig om meer mense aanboord te kry. Ons het ‘n versameling preke ontwikkel wat ruimte skep om die tema van ondersteuning vir Vroeë Kindontwikkeling aan ‘n gemeente voor te stel. Ons het ook ‘n kort informatiewe en inspirerende dokumentêre film geskep wat vir gemeentes gewys kan word.
- Laai preke af
- Skryf vir ons by [email protected] om ‘n kopie van die video: “Wat sal ware verandering in Suid-Afrika bring?” te bekom.
U kan belangstellendes vra om hul name en kontak nommers op ‘n lys aan te teken en vandaar kan u ‘n werkspan skep.
Stap 3: Skep ‘n span
- Kies vir u ‘n naam: Ons stel ‘n naam soos “Gemeente-naam Embrace” (bv. Wellington-Oos Embrace) voor.
- Kies ‘n voorsitter of leier.
- Stig ‘n WhatsApp-groep sodat almal in kontak met mekaar kan wees.
- Lees meer oor die tipe projekte wat u gemeente kan oorweeg en ons vennote wat dit ondersteun – onthou ons vennote is ook u vennote.
Onthou:
- Elke gemeente en gemeenskap is uniek.
- Die rolspelers in die gemeente en gemeenskap is uniek.
- Die behoeftes van verskillende gemeenskappe is verskillend.
- U gemeente bepaal self in watter mate en hoedanigheid u betrokke wil wees.
- Soek vennote om mee saam te werk in die gemeenskap.
- Die munisipaliteit en Departement Sosiale Welsyn het reeds mense wat betrokke is by VKO in u gemeenskap. Kontak hulle eerste.
- Die Diensgroep DIACONIA is ‘n ondersteuningsbron wat u aksies ondersteun.
Stap 4: Skep ‘n netwerk
- Vind by die munisipaliteit en Department Sosiale Ontwikkeling uit wie verantwoordelik is vir Vroeë Kindontwikkeling (VKO) /Early Childhood Development (ECD) en maak kontak met hulle om in ‘n vennootskap saam te werk. Die plaaslike biblioteek, Departement Gesondheid en Departement Basiese Onderwys mag dalk ook belangrike vennote wees om kragte mee te span.
- Werk saam met ander kerke en diensgroepe soos die Rotariërs, Vryburgers, Round Table, Lions Club, ens. Span ook kragte saam met organisasies wat hulpbronne kan deel, bv. nie-regerings organisasies, kleuterskole, nasorgsentrums, ensovoorts.
- Vra hulp van talentvolle mense in u gemeente en gemeenskap om u projek te ondersteun, bv. joernaliste, arbeidsterapeute, onderwysers en jong mense wat van sosiale media hou en ‘n Facebook-bladsy kan skep en byhou.
- Onthou dat al die kerklike vennote (Bybelverspreiding, Christelike Lektuur Fonds (CLF), Badisa, Hugenote Kollege, Bybelmedia, Diaconia) tot u beskikking is.
Stap 5: Verwoord visie
- Gesels met soveel as moontlik mense wat reeds by Vroeë Kindontwikkeling in u gemeenskap betrokke is.
- Stel vas wat aan die gebeur is en wie die rolspelers is.
- Gesels met mekaar as span om te hoor hoe die Gees elkeen lei.
- Moenie bang wees om aksie te neem selfs al voel u onseker nie.
- Daar kom dikwels helderheid oor hoe die Gees ons lei as ons eers aksie geneem en gewaag het om iets te doen. Ons almal leer uit ons foute. As ons geen aksie neem nie, kan ons nie foute maak nie, maar dit help niemand nie. Neem dus aksie.
- Uit die aksie sal daar mettertyd ‘n visie duidelik word, sodat u as span weet wat dit is wat u moet doen.
- Moenie te haastig wees en verwag dat dit reg van die begin af moet gebeur nie.
- Mense getuig voortdurend dat hulle eers na ‘n tyd beter begin verstaan wat om te doen en nie reg van die begin af met alles vertroud is nie.
Stap 6: Bou ‘n databasis en dokumenteer wat u doen
Dit is belangrik om ‘n databasis te ontwikkel oor wat in die gemeenskap rondom Vroeë Kindontwikkeling aan die gebeur is. Vra die kerkkantoor of ‘n lid van die span om ‘n databasis te bou van geregistreerde en ongeregistreerde kleuterskole, die aantal kinders, die vrouens wat daar werk, hul kontakbesonderhede, ens. Hou ook rekord van alle hulp wat aangebied en gelewer word deur u projek. Neem foto’s en skryf neer wat tydens aktiwiteite wat aangebied is, gebeur het en wat dit vir die mense, en ook vir u, beteken het. Deel hierdie informasie om meer mense betrokke te kry. Hierdie inligting gaan ook belangrik wees wanneer u aansoek doen vir fondse om u in staat te stel om meer en groter werk in die gemeenskap te doen.
Stap 7: Vestig fondse
Sodra daar begin word om die nood van kleuterskole, vrouens en kinders raak te sien en dit onder die aandag van die gemeenskap gebring word, sal fondse beskikbaar gestel word om die behoeftes aan te spreek. Daarom is dit raadsaam om redelik vroeg ‘n Vroeë Kindontwikkelingsfonds te stig. U kan dit selfs oorweeg om ‘n NGO te stig wat belastingsertifikate vir donasies kan uitreik. U kan ook Diaconia kontak om u te help om hierdie sertifikate aan maatskappye wat u ondersteun, uit te reik. Onthou, dit word van besighede verwag om in die gemeenskap betrokke te wees.
Die volgende sosiale ontwikkelingsbeginsels word in die ondersteuning en ontwikkeling van Vroeë Kindontwikkelingsprogramme toegepas.