2014-06-28-11_fotor

Begin ‘n leesklub vir kinders

Deur ‘n leesklub op die been te bring, word daar verseker dat lees ‘n gereelde aktiwiteit in die kinders wat dit bywoon se lewens is. Indien dit reg aangebied word sal dit iets wees waarna die kinders uitsien en wat vir hulle genot verskaf. Hoe meer positiewe assosiasies hulle met lees en boeke het, hoe meer sal hulle gemotiveerd wees om te leer lees en om te lees vir plesier. ‘n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat ‘n mens aan ‘n ander persoon kan gee. Hier is ‘n oulike video oor leesklubs en aktiwiteite wat aangebied kan word om kinders te help om ‘n liefde vir lees te kweek.

So ‘n klub kan moontlik begin word in vennootskap met die plaaslike biblioteek, ander kerke, kleuterskole en diensorganisasies.  Een strategie sal wees om ‘gereelde’ lesers te identifiseer of ‘n skedule op te stel tussen ‘n paar persone wat een maal per maand ‘n beurt kry om te gaan voorlees vir kinders. U kan ook vrywilligers uit die gemeenskap bemagtig en ondersteun om ‘lesers vir kinders’ te word. Daar kan moontlik ook spesiale geleenthede wees waar daar byvoorbeeld een maal ‘n kwartaal ‘n poppekasvertoning gehou word.

Nal’ibali verskaf ‘n groot hoeveelheid hulpbronne en idees, asook ‘n handleiding oor hoe om ‘n leesklub te begin. Hulle bied ook opleiding aan gemeentelede en ander individue wat graag vir kinders wil voorlees en deel van die leesklub se aktiwiteite wil wees.  As u ten minste 15 belangstellendes bymekaar kan kry en  ‘n lokaal en die middagete/verversings voorsien, sal Nal’ibali fasiliteerders kom oplei om vir kinders te lees en om ‘n leesklub te begin en te bestuur.  Kontak hulle by: 02 11 80 40 80.  U kan ook na ons Pinterest-bladsy kyk vir idees vir prettige, lae-koste aktiwiteite om gedurende leesklubsessies te doen.

Hoe kan gemeentelede die werk van hierdie groepie ondersteun?

  • ‘n Projekbestuurspan sal benodig word
  • Gemeentelede en ander besoek die leesklub om vir die kinders voor te lees
  • Kussings, komberse en matte kan bymekaar gemaak en geskenk word aan die leesklub om seker te maak dat almal gemaklik en warm kan sit en storie luister. Indien moontlik kan ‘n mens ook die leeshoekie mooi en verbeeldingryk probeer versier.
  • Vrugte en gesonde, nie-bederfbare versnapperings en drinkgoed vir honger magies voor storie-uur sal welkom wees.
  • Vriende, familie of kennisse in die gemeenskap kan betrek word om die projek en groter doelstelling te ondersteun.
  • Hierdie hoef nie net een kerk te betrek nie, die verskillende kerke en gewone burgers  kan almal saamwerk. Hoe groter die netwerk is, hoe groter is die verandering wat ons saam kan maak!
  • Boeke en skryfbehoeftes is altyd nuttig vir leesklubs. ‘n Mens wil graag hê dat alle families boeke in hul huise het (al word dit gereeld uitgeruil). ‘n Boekrit tussen vriende of gemeentelede kan georganiseer word om boeke op te tel of aan te koop.
  • Storiesakke of geverfde storieklippe is oulike items vir ‘n leesklub. Versamel klein voorwerpe en sit dit in ‘n “storiesak” (bv. ‘n ring, ‘n handpop, ‘n bos sleutels, ‘n beursie en ‘n klokkie). Die kinders maak beurte om ‘n voorwerp uit die sak te haal en maak dan ‘n storie op oor dié voorwerp. Stories kan individueel of in pare vertel word.
  • Kostuumklere en storiehulpmiddels soos handpoppe en ‘n poppekas kan stories genotvol maak.
  • Dit is ‘n goeie idee om dit wat in die projek gedoen word, visueel te dokumenteer en met ander te deel sodat meer mense betrokke kan raak. Die skep van ‘n Facebook-bladsy is ‘n goeie idee.
  • Nal’ibali publiseer knip-en-bêre boekies in koerante. ‘n Mens kan dit ook van hul webwerf aflaai, druk en uitknip. Dit is belangrik dat alle kinders toegang tot boeke in hul huise moet hê.
  • Donasies kan gebruik word om boeke en benodigdhede aan te koop of om uitstappies te finansier. Elke bietjie help!
  • Versamel ou koerante, weggooipapier, tydskrifte en boeke en skenk dit aan ‘n leesklub of kleuterskole en nasorgsentrums in die dorp.
  • Skenk ou bababoeke aan swanger ma’s. Geletterdheidsontwikkeling begin reeds voordat ‘n baba gebore word, aangesien die ouer besig is om die omgewing waarin die kind gaan grootword, voor te berei. Deur boeke en hulpmiddels aan ‘n swanger ma te skenk, word sy gehelp om ‘n storieryke omgewing vir haar pasgebore baba te skep.

Neem ‘n groep kinders en hul ouers van tyd tot tyd biblioteek toe en help hulle om lede te word.

  • Help met die beplanning van ‘n uitstappie
  • Help met die vervoer
  • Help met die koördinering en fasilitering van die uitstappie

Begin ‘n ouer-en-baba groep

Babas en kleuters is mal oor rympies, liedjies, boeke en stories. Blootstelling aan taal is op hierdie stadium krities vir breinontwikkeling. Kom saam met ouers en ander volwassenes bymekaar wat omgee vir babas en kleuters en sing liedjies, sê rympies op en kyk saam met mekaar deur boeke. Nal’ibali verskaf riglyne en hulpbronne hiervoor.

  • Help om sessies te beplan en te fasiliteer


Fasiliteer sessies met ouers

Dit is belangrik om ouers in te lig oor die waarde van lees vir hul kinders. Dit kan geïntegreer word met enige van die bogenoemde projekte.

  • Help om sessies te beplan en te fasiliteer
  • Skenk of help met verversings vir ouers