Opsomming
Teologiese en sosio-politieke ontwikkelinge het in Suid-Afrika daartoe bygedra dat ’n bevindelike tradisie van veral die 19de-eeuse Afrikaanse kerklikelewe op die agtergrond verdwyn het. Hierdie ireniese en transformatiewe tradisie is toenemend in die 20ste eeu verdring deur ’n kille intellektualisme en ’n dorre leersuiwerheid. In die apartheidsera is dit gepaar met ’n nasionalistiese tendens wat ’n hoëpremie op ortodoksie en lojaliteit aan kerklike gesag en uitsprake geplaas het. Baie energie is in daardie tyd bestee aan die bestryding van gewaande ketterye en afwykende menings –veral ook van bevindelikheid en mistiek. In die proses is die kerkgeskiedenis herskryf om die plek van die mistiek in teologie en kerk te verswyg of as ’n ongelukkige afwyking af te maak.
’n Nuwe blik op die geskiedenis van Andrew Murray, waarskynlik een van die invloedrykste kerkleiers in die Afrikaanse Protestantisme en in wêreldwye opwekkingsbewegings, toon hoe deurslaggewend hy deur die bekendste en selfs mees omstrede mistici in die geskiedenis beïnvloed is. Sy blootstelling aan Skotse spiritualiteit, Duitse Piëtisme en Nederlandse Réveil belig en bevestig hierdie mistieke ingesteldheid van hom. Murray skryf meer as 200 bevindelike boeke, maar hy het ook drie mistieke boeke van die veelgelese Engelse mistikus William Law uitgegee. In ’n uitgebreide inleiding tot een van hulle, met die titelWholly for God, het Murray rekenskap gegee van sy siening en toe-eiening van die mistiek. Tot dusver is min aandag aan die inleiding gegee, nie net vanweë die verdagmaking van die mistiek nie, maar ook weens ’n beperkte kennis daarvan. Dit het meegebring dat die komplekse en diepgaande mistieke aard van Murray se werk en die impak van sy opmerkings in die inleiding nie gepeil word nie.
Murray se hoë lof op die mistiek in die inleiding word nog meer verstaanbaar in die lig van sy lewe en werk. ’n Vergelyking met kontemporêre ondersoek van spiritualiteit en van die mistiek, soos nagevors in Spiritualiteitkunde, bevestig voorts die mistieke aard van Murray se werk en verklaar die ireniese, ekumeniese en oop karakter van sy bevindelikheid. Die artikel ondersoek hoe Murray die mistiek verstaan entoegeëien het. Dit sal verder toon dat Murray se mistiek ’n nugterheid het wat herinner aan die mistiek van ander belangrike Protestantse bewegings (soos die invloedryke Moderne Toewyding in Nederland en die werk van Thomas à Kempis).
Hierdie revisionêre herbesinning oor Murray se mistiek onderstreep dat die mistiek, soos Murray geskryf het, ’n wesenlike, selfs natuurlike, kenmerk van godsdienstige ervaring is en daarom ’n noodsaaklike plek in die godsdienstige diskoers het.